Laerskool Bastion, geleë in Proteahoogte (Brackenfell-Suid), bestaan sedert Januarie 1980. Dis ‘n parallelmediumskool wat onderrig verskaf in beide Afrikaans en Engelsmedium. Sedert dit in 1980 met 294 leerders begin het, groei die inskrywings elke jaar. Die skool bied ‘n gebalanseerde opvoedingsprogram aan. Akademies huisves ons leerders van Graad R tot Graad 7 en ‘n OLSO-klas. Daar word na uitnemendheid gestreef. Die Interhuiskompetisie, die Prysuitdeling en die DUX-leerder elke jaar, bewys dit. Leerders ontvang didakties-remediërende hulp waar nodig. Ons strewe is om ons leerders se intellek ten volle in te span. Ons het ook ‘n ten volle toegeruste rekenaarsentrum, waar rekenaargeletterdheid as deel van die kurrikulum aangebied word, vanaf Graad 1. Op kultuurgebied neem ons aan die Internasionale Tygerberg-Eisteddfod deel waar ons baie goed presteer. Ons het twee groot kore, bied individuele klaviermusiek aan, bevorder klassang, hou gereeld konsert, kersspele en ons bied verskeie dramas en sangoptredes van buitepersone aan. Verskeie van ons leerders verwerf groot eer op die verhoog. Op sportgebied bied ons rugby, krieket, hokkie, tennis, atletiek, landloop, judo, karate, skaak en ballet aan. Van hierdie bedrywighede word deur buitepersone teen ekstra koste aangebied. Die skolierpatrollie, die biblioteekmonitors en ons prefekte verrig koningswerk. Hierdie leerders is leiers wat wind en weer trotseer om op hul pos te wees. Ons stelsel van prefekte verseker dat goeie discipline gehandhaaf word en skoolreëls gehoorsaam word.
|